OJ Simpson, Lance Armstrong, Marion Jones, Hansie Cronje, Tiger Woods is almal voorbeelde van mense wat bekend is vir hul
besondere sporprestasies maar in so ‘n mate te kort geskiet het in ander fasette van hul menswees dat hulle openbare beeld negatief daardeur beïnvloed is.
Vanaf ‘n jong ouderdom oefen sportsterre geweldig hard om die beste te wees in wat hulle doen. Hulle spandeer
soveel tyd aan die ontwikkeling van hul liggame en sport emosionele intelligensie dat daar kwalik tyd oor is om hul emosionele intelligensie (EI) van toepassing op ander terreine as sport te ontwikkel. En dan as bekendheid kom is die druk so baie dat hul kwalik oor die sterktes, wysheid en onderskeiding beskik om dit sinvol te hanteer.
Jou EI is hoe slim jy met jou eie en ander se gevoelens is, of jy frustrasies sinvol kan hanteer, kan wag vir bevrediging van jou behoeftes, dinge kan doen wat moeilik vir jou is en kan sukkel tot jy dit regkry, hoe jy na die lewe, mense en veral slegte en onregverdige gebeurtenisse kyk en dit hanteer en verwerk.
Sterk EI is nie net van waarde vir sportsterre nie. Dit het ‘n reuse impak op alle mense se beroepsukses en -geluk. Behalwe jou loopbaankeuse en die implikasie vir jou vakke op skool, doen ons spesiaal moeite by Louw Loopbane om jou selfkennis en begrip te verbeter en jou te inspireer om jou EI te versterk.
